LitNet Akademies Jaargang 19, Nommer 3, 2022, ISSN 1995-5928 https://doi.org/10.56273/1995-5928/2022/j19n3d4 760 Running Records 1 (RR) as ’n leesassesseringstrategie om leesonderrig in Suid-Afrikaanse grondslagfaseklaskamers te ondersteun Lynette van Tonder, Joyce West en Melanie Moen Lynette van Tonder, Aros, junior lektor (Grondslagfase) Joyce West, Department van Vroeë Kinderontwikkeling, Universiteit van Pretoria Melanie Moen, Opvoedkundige Sielkunde, Universiteit Stellenbosch Opsomming Vanuit internasionale en nasionale studies kan waargeneem word dat Suid-Afrikaanse grondslagfaseleerders sukkel om basiese leesvaardighede aan die einde van die fase te bemeester. Moontlike redes hiervoor is dat onderwysers ondoeltreffende leesassessering- strategieë in hul klaskamers aanwend, en onakkurate pedagogie en leeskonteks gebruik om leesprobleme te identifiseer en leesvaardighede vir leerders te leer. Akkurate identifisering van leerders se leesprobleme is noodsaaklik om leesonderrigbeplanning, pedagogie en die onderrig van leesvaardighede korrek in te gee. Effektiewe ingryping en ’n leesassesseringstrategie is noodsaaklik om leerders se leesstruikelblokke aan te spreek en hulle leesvaardighede te verbeter. Running Records (RR) is ’n leesassesseringstrategie wat onderwysers moontlik kan ondersteun om leesprobleme te identifiseer en leesonderrig te rig. In hierdie kwalitatiewe studie is die moontlikheid om RR as ’n leesassesseringstrategie in Suid-Afrikaanse grondslagfase- klaskamers te gebruik vanuit ’n interpretivistiese paradigma ondersoek, en in hierdie artikel word ’n opsommende verslag hieroor gelewer. Die studie is gegrond in die geletterdheids- prosesseringsteorie en die onderwyseragentskapsteorie. Die geletterdheidsprosesseringsteorie is toegespits op die wyse waarop leerders geletterdheidsvaardighede ontwikkel en verkry, terwyl die onderwyseragentskapsteorie sigself toelê op die manier waarop onderwysers hul professionele mag en identiteit gebruik om leesassessering in die klaskamer toe te pas. In hierdie studie het sewe deelnemers (onderwysers) opleiding in die gebruik van RR ontvang. Daarna het hulle RR in hul klaskamers aangewend en terugvoer gelewer oor die uitvoer- baarheid van hierdie strategie in Suid-Afrikaanse grondslagfaseklaskamers. Daar is bevind dat RR die potensiaal het om geldige, betroubare en bestendige inligting op te lewer om leesonderrigbeplanning, pedagogie en leesvaardighede van leerders in te gee sodat leerders se leesstruikelblokke die hoof gebied kan word. Die bevindinge het ook aangedui dat RR leesonderrig akkuraat kan ingee slegs as onderwysers hoëgehalte-opleiding ontvang in die